| |
Afrikaanse Bybel |  | |
 |
| |
| | 1Cr 16:1 | Wat die insameling vir die heiliges betref, moet julle ook so doen soos ek vir die gemeentes van Galásië gereël het.
| |
| | 1Cr 16:2 | Op elke eerste dag van die week moet elkeen van julle self opsy sit en opspaar namate sy voorspoed is, sodat die insamelinge nie eers plaasvind as ek kom nie.
| |
| | 1Cr 16:3 | En wanneer ek aangekom het, sal ek die persone wat julle goedkeur, met briewe stuur om julle gawe na Jerusalem te bring.
| |
| | 1Cr 16:4 | En as dit die moeite werd is dat ek ook gaan, kan hulle saam met my reis.
| |
| | 1Cr 16:5 | Maar ek sal na julle kom nadat ek deur Macedónië gereis het, want ek gaan deur Macedónië.
| |
| | 1Cr 16:6 | En moontlik sal ek by julle vertoef of ook oorwinter, sodat julle my kan voorthelp waarheen ek ook al mag reis.
| |
| | 1Cr 16:7 | Want ek wil julle nie nou net in die verbygaan sien nie, maar ek hoop om 'n tyd lank by julle te bly as die Here dit toelaat.
| |
| | 1Cr 16:8 | Maar ek sal in Éfese bly tot pinkster toe.
| |
| | 1Cr 16:9 | Want 'n groot en kragtige deur het vir my oopgegaan, en daar is baie teëstanders.
| |
| | 1Cr 16:10 | En as Timótheüs kom, sorg dat hy sonder vrees by julle is, want hy doen die werk van die Here net soos ek.
| |
| | 1Cr 16:11 | Laat niemand hom dan minag nie, maar help hom verder in vrede, dat hy na my toe kan kom; want ek wag vir hom saam met die broeders.
| |
| | 1Cr 16:12 | Met betrekking tot die broeder Apollos, by hom het ek sterk aangedring om saam met die broeders na julle te gaan; maar hy was heeltemal onwillig om nou te gaan; hy sal egter gaan wanneer die tyd vir hom geleë is.
| |
| | 1Cr 16:13 | Waak, staan in die geloof, wees manlik, wees sterk.
| |
| | 1Cr 16:14 | Laat alles by julle in liefde geskied.
| |
| | 1Cr 16:15 | En ek versoek julle, broeders--julle weet dat die huisgesin van Stéfanas die eersteling van Acháje is en dat hulle hul tot diens van die heiliges gestel het--
| |
| | 1Cr 16:16 | dat julle ook onderworpe moet wees aan sulke mense en aan elkeen wat saamwerk en arbei.
| |
| | 1Cr 16:17 | En ek verbly my oor die aankoms van Stéfanas en Fortunátus en Acháïcus, omdat hulle my gemis aan julle vergoed het.
| |
| | 1Cr 16:18 | Want hulle het my gees verkwik en julle s'n ook. Erken sulke manne dan.
| |
| | 1Cr 16:19 | Die gemeentes van Asië groet julle. Aquila en Priscílla saam met die gemeente wat in hulle huis is, laat vir julle baie groete weet in die Here.
| |
| | 1Cr 16:20 | Al die broeders groet julle. Groet mekaar met 'n heilige kus.
| |
| | 1Cr 16:21 | Die groete van Paulus, met my eie hand.
| |
| | 1Cr 16:22 | As iemand die Here Jesus Christus nie liefhet nie, laat hom 'n vervloeking wees! Maranáta!
| |
| | 1Cr 16:23 | Die genade van die Here Jesus Christus sy met julle!
| |
| | 1Cr 16:24 | My liefde met julle almal in Christus Jesus! Amen.
| |