All NT OTBook
Compare Texts
Luke 1 John 10

John 11:1-57

John 12 Acts 1

Afrikaanse Bybel

 
 
 
Jhn 11:1
 
En daar was 'n man siek, Lasarus van Betánië, die dorp van Maria en haar suster Martha.  
 
Jhn 11:2
 
En dit was Maria wat die Here gesalf het met salf en sy voete afgedroog het met haar hare, wie se broer, Lasarus, siek was.  
 
Jhn 11:3
 
Die susters het toe na Hom gestuur en gesê: Here, hy vir wie U liefhet, is siek.  
 
Jhn 11:4
 
En toe Jesus dit hoor, sê Hy: Hierdie siekte is nie tot die dood toe nie, maar tot die heerlikheid van God, sodat die Seun van God daardeur verheerlik kan word.  
 
Jhn 11:5
 
En Jesus het Martha en haar suster en Lasarus liefgehad.  
 
Jhn 11:6
 
En toe Hy hoor dat hy siek is, het Hy twee dae vertoef in die plek waar Hy was.  
 
Jhn 11:7
 
Eers daarna sê Hy aan die dissipels: Laat ons weer na Judéa gaan.  
 
Jhn 11:8
 
Die dissipels sê vir Hom: Rabbi, die Jode het onlangs probeer om U te stenig, en gaan U weer daarnatoe?  
 
Jhn 11:9
 
Jesus antwoord: Is daar nie twaalf ure in die dag nie? As iemand in die dag wandel, stamp hy hom nie, omdat hy die lig van hierdie wêreld sien.  
 
Jhn 11:10
 
Maar as iemand in die nag wandel, stamp hy hom, omdat die lig nie in hom is nie.  
 
Jhn 11:11
 
Dit het Hy gespreek; en daarna sê Hy vir hulle: Lasarus, ons vriend, slaap; maar Ek gaan om hom wakker te maak.  
 
Jhn 11:12
 
Sy dissipels sê toe: Here, as hy slaap, sal hy gesond word.  
 
Jhn 11:13
 
Maar Jesus het gespreek van sy dood, terwyl hulle gedink het dat Hy van die rus van die slaap spreek.  
 
Jhn 11:14
 
En toe sê Jesus vir hulle ronduit: Lasarus is dood.  
 
Jhn 11:15
 
En Ek is bly om julle ontwil dat Ek nie daar was nie, sodat julle kan glo. Maar laat ons na hom toe gaan.  
 
Jhn 11:16
 
En Thomas, wat Dídimus genoem word, sê vir sy mededissipels: Laat ons ook gaan om saam met Hom te sterwe.  
 
Jhn 11:17
 
Toe Jesus dan gekom het, het Hy gevind dat hy al vier dae in die graf was.  
 
Jhn 11:18
 
En Betánië was naby Jerusalem, omtrent twee myl daarvandaan.  
 
Jhn 11:19
 
En baie van die Jode het al by Martha en Maria gekom om hulle oor hul broer te troos.  
 
Jhn 11:20
 
En toe Martha hoor dat Jesus kom, het sy Hom tegemoetgegaan. Maar Maria het in die huis bly sit.  
 
Jhn 11:21
 
En Martha sê vir Jesus: Here, as U hier gewees het, sou my broer nie gesterf het nie.  
 
Jhn 11:22
 
Maar selfs nou weet ek dat alles wat U van God vra, God U sal gee.  
 
Jhn 11:23
 
Jesus sê vir haar: Jou broer sal opstaan.  
 
Jhn 11:24
 
Martha antwoord Hom: Ek weet dat hy sal opstaan in die opstanding in die laaste dag.  
 
Jhn 11:25
 
Jesus sê vir haar: Ek is die opstanding en die lewe; wie in My glo, sal lewe al het hy ook gesterwe;  
 
Jhn 11:26
 
en elkeen wat lewe en in My glo, sal nooit sterwe tot in ewigheid nie. Glo jy dit?  
 
Jhn 11:27
 
Sy antwoord Hom: Ja, Here, ek glo dat U die Christus is, die Seun van God, wat in die wêreld sou kom.  
 
Jhn 11:28
 
En nadat sy dit gesê het, gaan sy en roep Maria, haar suster, stilletjies en sê: Die Meester is hier en Hy roep jou.  
 
Jhn 11:29
 
Sy het, toe sy dit hoor, vinnig opgestaan en na Hom toe gegaan.  
 
Jhn 11:30
 
En Jesus het nog nie in die dorp gekom nie, maar was op die plek waar Martha Hom tegemoetgegaan het.  
 
Jhn 11:31
 
En toe die Jode wat by haar in die huis was en haar getroos het, sien dat Maria vinnig opstaan en uitgaan, het hulle haar gevolg en gesê: Sy gaan na die graf om daar te ween.  
 
Jhn 11:32
 
En toe Maria kom waar Jesus was en Hom sien, val sy aan sy voete neer en sê vir Hom: Here, as U hier gewees het, sou my broer nie gesterf het nie.  
 
Jhn 11:33
 
Toe Jesus haar dan sien ween en die Jode wat saam met haar gekom het, ook sien ween, het Hy geweldig bewoë geword in sy gees en Hom ontstel  
 
Jhn 11:34
 
en gesê: Waar het julle hom neergelê? Hulle sê vir Hom: Here, kom kyk.  
 
Jhn 11:35
 
Jesus het geween.  
 
Jhn 11:36
 
Die Jode sê toe: Kyk, hoe lief Hy hom gehad het!  
 
Jhn 11:37
 
En sommige van hulle sê: Kon Hy wat die oë van die blinde man geopen het, nie maak dat hierdie man ook nie gesterf het nie?  
 
Jhn 11:38
 
En Jesus het weer in Homself geweldig bewoë geword en by die graf gekom. En dit was 'n spelonk, en 'n steen het daarteen gelê.  
 
Jhn 11:39
 
Jesus sê: Neem die steen weg. Martha, die suster van die oorledene, sê vir Hom: Here, hy ruik al, want hy is al vier dae dood.  
 
Jhn 11:40
 
Jesus sê vir haar: Het Ek nie vir jou gesê, as jy glo, sal jy die heerlikheid van God sien nie?  
 
Jhn 11:41
 
Hulle neem toe die steen weg waar die oorledene lê. En Jesus het sy oë opgeslaan en gesê: Vader, Ek dank U dat U My verhoor het;  
 
Jhn 11:42
 
en Ek het geweet dat U My altyd verhoor, maar ter wille van die skare wat rondom staan, het Ek dit gesê, sodat hulle kan glo dat U My gestuur het.  
 
Jhn 11:43
 
En nadat Hy dit gesê het, het Hy met 'n groot stem geroep: Lasarus, kom uit!  
 
Jhn 11:44
 
En die oorledene het uitgekom, aan hande en voete met grafdoeke gebind, en sy gesig was toegedraai met 'n doek. Jesus sê vir hulle: Maak hom los en laat hom gaan.  
 
Jhn 11:45
 
En baie van die Jode wat na Maria gekom het en aanskouers was van wat Jesus gedoen het, het in Hom geglo.  
 
Jhn 11:46
 
Maar sommige van hulle het na die Fariseërs gegaan en hulle vertel wat Jesus gedoen het.  
 
Jhn 11:47
 
En die owerpriesters en die Fariseërs het die Raad byeengeroep en gesê: Wat sal ons doen? --want hierdie man doen baie tekens.  
 
Jhn 11:48
 
As ons Hom so laat begaan, sal almal in Hom glo; en die Romeine sal kom en ons land en ons nasie albei afneem.  
 
Jhn 11:49
 
En een van hulle, Kájafas, wat daardie jaar hoëpriester was, sê vir hulle: Julle weet niks nie  
 
Jhn 11:50
 
en dink nie daaraan dat dit vir ons voordelig is dat een man vir die volk sterwe en nie die hele nasie omkom nie.  
 
Jhn 11:51
 
En dit het hy nie uit homself gesê nie; maar omdat hy daardie jaar hoëpriester was, het hy geprofeteer dat Jesus vir die volk sou sterwe.  
 
Jhn 11:52
 
En nie alleen vir die volk nie, maar ook om die verstrooide kinders van God tot 'n eenheid saam te voeg.  
 
Jhn 11:53
 
Van dié dag af het hulle toe saam beraadslaag om Hom om die lewe te bring.  
 
Jhn 11:54
 
Daarom het Jesus nie meer in die openbaar onder die Jode gewandel nie, maar daarvandaan weggegaan na die streek naby die woestyn, na 'n stad met die naam van Efraim. En daar het Hy vertoef met sy dissipels.  
 
Jhn 11:55
 
En die pasga van die Jode was naby; en baie het uit dié landstreek na Jerusalem opgegaan voor die pasga om hulle te reinig.  
 
Jhn 11:56
 
En hulle het Jesus gesoek; en terwyl hulle in die tempel staan, sê hulle vir mekaar: Wat dink julle, sal Hy nie na die fees kom nie?  
 
Jhn 11:57
 
En die owerpriesters en die Fariseërs het ook 'n bevel gegee dat as iemand wis waar Hy was, hy dit moes bekend maak, sodat hulle Hom gevange kon neem.  

Genesis | Exodus | Leviticus | Numbers | Deuteronomy | Joshua | Judges | Ruth | 1 Samuel | 2 Samuel | 1 Kings | 2 Kings | 1 Chronicles | 2 Chronicles | Ezra | Nehemiah | Esther | Job | Psalms | Proverbs | Ecclesiastes | Song of Solomon | Isaiah | Jeremiah | Lamentations | Ezekiel | Daniel | Hosea | Joel | Amos | Obadiah | Jonah | Micah | Nahum | Habakkuk | Zephaniah | Haggai | Zechariah | Malachi | Matthew | Mark | Luke | John | Acts | Romans | 1 Corinthians | 2 Corinthians | Galatians | Ephesians | Philippians | Colossians | 1 Thessalonians | 2 Thessalonians | 1 Timothy | 2 Timothy | Titus | Philemon | Hebrews | James | 1 Peter | 2 Peter | 1 John | 2 John | 3 John | Jude | Revelation
Luke 1John 101 2 3 4 5 6 7 8 9 10 11 12 13 14 15 16 17 18 19 20 21 John 12Acts 1
© 2005 redegg.org Home | Bible | About | Help | Site Map | Violin Flash Cards