All NT OTBook
Compare Texts
Mark 1 Luke 6

Luke 7:1-50

Luke 8 John 1

Afrikaanse Bybel

 
 
 
Luk 7:1
 
En nadat Hy voor die ore van die volk al sy woorde beëindig het, het Hy in Kapérnaüm ingegaan.  
 
Luk 7:2
 
En die dienskneg van 'n sekere hoofman oor honderd, wat vir hom baie werd was, was ongesteld en het op sterwe gelê.  
 
Luk 7:3
 
Toe hy dan van Jesus hoor, het hy ouderlinge van die Jode na Hom gestuur met die versoek aan Hom dat Hy moes kom en sy dienskneg gesond maak.  
 
Luk 7:4
 
En toe hulle by Jesus kom, het hulle Hom dringend gesmeek en gesê: Hy is dit werd dat U dit vir hom doen;  
 
Luk 7:5
 
want hy het ons volk lief en het self die sinagoge vir ons gebou.  
 
Luk 7:6
 
En Jesus het saam met hulle gegaan; maar toe Hy nie meer ver van die huis af was nie, stuur die hoofman oor honderd vriende na Hom om vir Hom te sê: Here, moenie moeite doen nie, want ek is nie werd dat U onder my dak inkom nie.  
 
Luk 7:7
 
Daarom het ek my ook nie waardig geag om na U te gaan nie; sê dit maar met 'n woord, en my kneg sal gesond word.  
 
Luk 7:8
 
Want ek is ook 'n man wat aan gesag onderworpe is, en ek het soldate onder my; en vir hierdie een sê ek: Gaan! en hy gaan; en vir 'n ander een: Kom! en hy kom; en vir my dienskneg: Doen dit! en hy doen dit.  
 
Luk 7:9
 
Toe Jesus dit hoor, was Hy oor hom verwonderd, en Hy draai Hom om en sê vir die skare wat Hom volg: Ek sê vir julle, selfs in Israel het Ek so 'n groot geloof nie gevind nie.  
 
Luk 7:10
 
En toe die wat gestuur was, teruggaan na die huis, vind hulle die siek dienskneg gesond.  
 
Luk 7:11
 
En die dag daarna was Hy op weg na 'n stad met die naam van Nain; en baie van sy dissipels en 'n groot menigte het saam met Hom gegaan.  
 
Luk 7:12
 
En toe Hy naby die poort van die stad kom, word daar net 'n dooie uitgedra, die enigste seun van sy moeder, en sy was 'n weduwee; en 'n groot menigte van die stad was by haar.  
 
Luk 7:13
 
En toe die Here haar sien, het Hy innig jammer vir haar gevoel en vir haar gesê: Moenie ween nie!  
 
Luk 7:14
 
En Hy het nader gegaan en die baar aangeraak. Daarop staan die draers stil. En Hy sê: Jongman, Ek sê vir jou, staan op!  
 
Luk 7:15
 
En die dooie het regop gaan sit en begin praat; en Hy het hom aan sy moeder teruggegee.  
 
Luk 7:16
 
En vrees het almal aangegryp terwyl hulle God verheerlik en sê: 'n Groot profeet het onder ons opgestaan; en: God het sy volk besoek.  
 
Luk 7:17
 
En hierdie woord aangaande Hom het uitgegaan in die hele Judéa en in die hele omtrek.  
 
Luk 7:18
 
En die dissipels van Johannes het hom van al hierdie dinge berig gebring.  
 
Luk 7:19
 
En Johannes het sekere twee van sy dissipels na hom geroep en hulle na Jesus gestuur en gesê: Is U die Een wat sou kom, of moet ons 'n ander een verwag?  
 
Luk 7:20
 
En toe die manne by Hom kom, sê hulle: Johannes die Doper het ons na U gestuur en gesê: Is U die Een wat sou kom, of moet ons 'n ander een verwag?  
 
Luk 7:21
 
En in dieselfde uur het Hy baie mense genees van siektes en kwale en bose geeste, en aan baie blindes die gesig geskenk.  
 
Luk 7:22
 
En Jesus antwoord en sê vir hulle: Gaan vertel aan Johannes wat julle sien en hoor: blindes sien weer, kreupeles loop, melaatses word gereinig, dowes hoor, dooies word opgewek, aan armes word die evangelie verkondig.  
 
Luk 7:23
 
En salig is elkeen wat aan My nie aanstoot neem nie.  
 
Luk 7:24
 
En nadat die boodskappers van Johannes weggegaan het, begin Hy vir die skare aangaande Johannes te sê: Wat het julle uitgegaan in die woestyn om te aanskou? 'n Riet wat deur die wind beweeg word?  
 
Luk 7:25
 
Maar wat het julle uitgegaan om te sien? 'n Man met sagte klere aan? Kyk, die wat pragtige klere dra en in weelde lewe, is in die paleise.  
 
Luk 7:26
 
Maar wat het julle uitgegaan om te sien? 'n Profeet? Ja, Ek sê vir julle, nog baie meer as 'n profeet!  
 
Luk 7:27
 
Dit is hy van wie daar geskrywe is: Kyk, Ek stuur my boodskapper voor u aangesig, wat u weg voor U uit sal regmaak.  
 
Luk 7:28
 
Want Ek sê vir julle, onder die wat uit vroue gebore is, is daar geen profeet groter as Johannes die Doper nie; maar die kleinste in die koninkryk van God is groter as hy.  
 
Luk 7:29
 
En toe die hele volk en die tollenaars dit hoor, het hulle God geregverdig deur hulle te laat doop met die doop van Johannes.  
 
Luk 7:30
 
Maar die Fariseërs en die wetgeleerdes het die raad van God aangaande hulle verwerp deur hulle nie deur hom te laat doop nie.  
 
Luk 7:31
 
Toe sê die Here: Waarmee sal Ek dan die mense van hierdie geslag vergelyk, en waaraan is hulle gelyk?  
 
Luk 7:32
 
Hulle is net soos kinders wat op die mark sit en na mekaar roep en sê: Ons het vir julle op die fluit gespeel, en julle het nie gedans nie; ons het vir julle 'n klaaglied gesing, en julle het nie gehuil nie.  
 
Luk 7:33
 
Want Johannes die Doper het gekom en het nie brood geëet of wyn gedrink nie, en julle sê: Hy het 'n duiwel.  
 
Luk 7:34
 
Die Seun van die mens het gekom en Hy eet en drink, en julle sê: Daar is 'n mens wat 'n vraat en 'n wynsuiper is, 'n vriend van tollenaars en sondaars.  
 
Luk 7:35
 
Maar die wysheid is geregverdig deur al sy kinders.  
 
Luk 7:36
 
En een van die Fariseërs het Hom genooi om by hom te eet; en Hy het in die huis van die Fariseër gekom en aan tafel gegaan.  
 
Luk 7:37
 
En toe 'n vrou in die stad, wat 'n sondares was, verneem dat Hy in die Fariseër se huis aan tafel was, het sy 'n albaste fles met salf gebring  
 
Luk 7:38
 
en agter by sy voete gaan staan en geween; en sy het sy voete begin natmaak met haar trane en hulle afgedroog met die hare van haar hoof; en sy het sy voete gesoen en met salf gesalf.  
 
Luk 7:39
 
Toe die Fariseër wat Hom genooi het, dit sien, sê hy by homself: Hy, as Hy 'n profeet was, sou geweet het wie en watter soort vrou dit is wat Hom aanraak; want sy is 'n sondares.  
 
Luk 7:40
 
En Jesus antwoord en sê vir hom: Simon, Ek het iets om aan jou te sê. En hy antwoord: Meester, spreek.  
 
Luk 7:41
 
Hy sê toe: 'n Sekere geldskieter het twee skuldenaars gehad; die een het vyf honderd pennings geskuld en die ander een vyftig;  
 
Luk 7:42
 
en omdat hulle niks gehad het om te betaal nie, het hy dit aan altwee geskenk. Sê nou, wie van hulle sal hom die meeste liefhê?  
 
Luk 7:43
 
En Simon antwoord en sê: Ek veronderstel dié een aan wie hy die meeste geskenk het. En Hy antwoord hom: Jy het reg geoordeel.  
 
Luk 7:44
 
Daarop draai Hy om na die vrou en sê vir Simon: Sien jy hierdie vrou? Ek het in jou huis gekom--water het jy nie vir my voete gegee nie; maar sy het met haar trane my voete natgemaak en met die hare van haar hoof afgedroog.  
 
Luk 7:45
 
'n Soen het jy My nie gegee nie; maar sy het, vandat sy ingekom het, nie opgehou om my voete te soen nie.  
 
Luk 7:46
 
Met olie het jy my hoof nie gesalf nie; maar sy het my voete met salf gesalf.  
 
Luk 7:47
 
Daarom sê Ek vir jou: Haar sondes wat baie is, is vergewe, want sy het baie liefgehad; maar hy vir wie weinig vergewe is, het weinig lief.  
 
Luk 7:48
 
En Hy sê vir haar: Jou sondes is vergewe.  
 
Luk 7:49
 
Toe begin die wat aan tafel was, by hulleself te sê: Wie is hierdie man wat selfs die sondes vergewe?  
 
Luk 7:50
 
En Hy sê vir die vrou: Jou geloof het jou gered; gaan in vrede.  

Genesis | Exodus | Leviticus | Numbers | Deuteronomy | Joshua | Judges | Ruth | 1 Samuel | 2 Samuel | 1 Kings | 2 Kings | 1 Chronicles | 2 Chronicles | Ezra | Nehemiah | Esther | Job | Psalms | Proverbs | Ecclesiastes | Song of Solomon | Isaiah | Jeremiah | Lamentations | Ezekiel | Daniel | Hosea | Joel | Amos | Obadiah | Jonah | Micah | Nahum | Habakkuk | Zephaniah | Haggai | Zechariah | Malachi | Matthew | Mark | Luke | John | Acts | Romans | 1 Corinthians | 2 Corinthians | Galatians | Ephesians | Philippians | Colossians | 1 Thessalonians | 2 Thessalonians | 1 Timothy | 2 Timothy | Titus | Philemon | Hebrews | James | 1 Peter | 2 Peter | 1 John | 2 John | 3 John | Jude | Revelation
Mark 1Luke 61 2 3 4 5 6 7 8 9 10 11 12 13 14 15 16 17 18 19 20 21 22 23 24 Luke 8John 1
© 2005 redegg.org Home | Bible | About | Help | Site Map | Violin Flash Cards