| |
Afrikaanse Bybel |  | |
 |
| |
| | Luk 21:1 | En toe Hy opkyk, sien Hy die rykes wat hulle gawes in die skatkis gooi.
| |
| | Luk 21:2 | En Hy het ook 'n arm weduwee daar twee geldstukkies sien ingooi.
| |
| | Luk 21:3 | En Hy sê: Waarlik, Ek sê vir julle dat hierdie arm weduwee meer as almal ingegooi het.
| |
| | Luk 21:4 | Want hulle almal het uit hul oorvloed by die gawes van God ingegooi, maar sy het uit haar gebrek ingegooi alles wat sy gehad het om van te lewe.
| |
| | Luk 21:5 | En toe sommige oor die tempel praat, dat dit met mooi klippe en gewyde geskenke versierd was, sê Hy:
| |
| | Luk 21:6 | Hierdie dinge wat julle sien daar sal dae kom wanneer daar nie een klip op die ander gelaat sal word wat nie afgebreek sal word nie.
| |
| | Luk 21:7 | En hulle vra Hom en sê: Meester, wanneer sal dit dan wees, en wat is die teken wanneer dit gaan gebeur?
| |
| | Luk 21:8 | En Hy antwoord: Pas op dat julle nie mislei word nie; want baie sal onder my Naam kom en sê: Dit is ek! en: Die tyd is naby! Gaan dan nie agter hulle aan nie.
| |
| | Luk 21:9 | En wanneer julle hoor van oorloë en opstande, moenie skrik nie; want dié dinge moet eers plaasvind, maar dit is nie dadelik die einde nie.
| |
| | Luk 21:10 | Toe sê Hy vir hulle: Die een nasie sal teen die ander opstaan en die een koninkryk teen die ander.
| |
| | Luk 21:11 | En daar sal groot aardbewings op verskillende plekke wees en hongersnode en pessiektes; en daar sal verskriklike dinge en groot tekens van die hemel kom.
| |
| | Luk 21:12 | Maar voor al hierdie dinge sal hulle die hande aan julle slaan en julle vervolg en oorlewer in sinagoges en gevangenisse en julle voor konings en goewerneurs bring ter wille van my Naam.
| |
| | Luk 21:13 | En dit sal vir julle uitloop op 'n getuienis.
| |
| | Luk 21:14 | Neem julle dan in jul harte voor om nie vooraf oor julle verdediging te dink nie.
| |
| | Luk 21:15 | Want Ek sal aan julle woorde en wysheid gee wat al julle teëstanders nie sal kan teëspreek of weerstaan nie.
| |
| | Luk 21:16 | Maar julle sal oorgelewer word ook deur ouers en broers en bloedverwante en vriende, en hulle sal van julle doodmaak.
| |
| | Luk 21:17 | En julle sal gehaat wees deur almal ter wille van my Naam.
| |
| | Luk 21:18 | En geen haar van julle hoof sal ooit verlore gaan nie.
| |
| | Luk 21:19 | Deur julle volharding moet julle jul lewe in besit kry.
| |
| | Luk 21:20 | En wanneer julle Jerusalem deur leërs omsingeld sien, dan moet julle weet dat sy verwoesting naby is.
| |
| | Luk 21:21 | Dan moet die wat in Judéa is, na die berge vlug; en die wat in die stad is, moet uitgaan; en die wat in die buitewyke is, moet nie daar inkom nie.
| |
| | Luk 21:22 | Want dit sal dae van wraak wees, sodat alles wat geskrywe is, vervul kan word.
| |
| | Luk 21:23 | Maar wee die vroue wat swanger is en die wat nog soog in daardie dae; want daar sal 'n groot nood in die land wees en toorn oor hierdie volk.
| |
| | Luk 21:24 | En hulle sal deur die skerpte van die swaard val en as krygsgevangenes geneem word na al die nasies, en Jerusalem sal vertrap word deur die nasies totdat die tye van die nasies vervul is.
| |
| | Luk 21:25 | En daar sal tekens wees aan son en maan en sterre, en op die aarde benoudheid van nasies in hulle radeloosheid, wanneer see en branders dreun,
| |
| | Luk 21:26 | en mense se harte beswyk van vrees en verwagting van die dinge wat oor die wêreld kom. Want die kragte van die hemele sal geskud word.
| |
| | Luk 21:27 | En dan sal hulle die Seun van die mens sien kom in 'n wolk, met groot krag en heerlikheid.
| |
| | Luk 21:28 | En as hierdie dinge begin gebeur, kyk dan na bo en hef julle hoofde op, omdat julle verlossing naby is.
| |
| | Luk 21:29 | Toe vertel Hy hulle 'n gelykenis: Let op die vyeboom en al die bome.
| |
| | Luk 21:30 | Net soos hulle bot, weet julle vanself, as julle dit sien, dat die somer al naby is.
| |
| | Luk 21:31 | So moet julle ook weet dat die koninkryk van God naby is wanneer julle hierdie dinge sien gebeur.
| |
| | Luk 21:32 | Voorwaar Ek sê vir julle, hierdie geslag sal sekerlik nie verbygaan voordat alles gebeur het nie.
| |
| | Luk 21:33 | Die hemel en die aarde sal verbygaan, maar my woorde sal nooit verbygaan nie.
| |
| | Luk 21:34 | Maar pas op vir julleself, dat julle harte nie miskien beswaar word deur swelgery en dronkenskap en sorge van die lewe nie, en dié dag julle nie skielik oorval nie.
| |
| | Luk 21:35 | Want soos 'n strik sal hy kom oor almal wat op die hele aarde woon.
| |
| | Luk 21:36 | Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan.
| |
| | Luk 21:37 | En Hy was oordag in die tempel besig om te leer, en snags het Hy uitgegaan en vernag op die berg wat die Olyfberg genoem word.
| |
| | Luk 21:38 | En die hele volk het vroeg in die môre na Hom in die tempel gekom om na Hom te luister.
| |