All NT OTBook
Compare Texts
Matthew 1 Mark 6

Mark 7:1-37

Mark 8 Luke 1

Afrikaanse Bybel

 
 
 
Mar 7:1
 
En die Fariseërs en sommige van die skrifgeleerdes wat van Jerusalem gekom het, het by Hom saamgekom;  
 
Mar 7:2
 
en toe hulle sommige van sy dissipels met onrein, dit is met ongewaste, hande sien brood eet, het hulle dit afgekeur.  
 
Mar 7:3
 
Want die Fariseërs en al die Jode eet nie as hulle nie deeglik die hande gewas het nie, omdat hulle vashou aan die oorlewering van die ou mense.  
 
Mar 7:4
 
En wanneer hulle van die mark kom, eet hulle nie as hulle nie gewas het nie; en baie ander dinge is daar wat hulle aangeneem het om te onderhou: die wassery van bekers en kanne en kopergoed en bedde.  
 
Mar 7:5
 
Daarop stel die Fariseërs en die skrifgeleerdes Hom die vraag: Waarom wandel u dissipels nie ooreenkomstig die oorlewering van die ou mense nie, maar eet brood met ongewaste hande?  
 
Mar 7:6
 
En Hy antwoord en sê vir hulle: Tereg het Jesaja oor julle, geveinsdes, geprofeteer soos geskrywe is: Hierdie volk eer My met die lippe, maar hulle hart is ver van My af.  
 
Mar 7:7
 
Maar tevergeefs vereer hulle My deur leringe te leer wat gebooie van mense is.  
 
Mar 7:8
 
Want terwyl julle die gebod van God nalaat, hou julle aan die oorlewering van mense vas: die wassery van kanne en bekers, en ander dergelike dinge van dieselfde aard doen julle baie.  
 
Mar 7:9
 
En Hy sê vir hulle: Julle verstaan dit goed om die gebod van God opsy te sit en so julle oorlewering te onderhou.  
 
Mar 7:10
 
Want Moses het gesê: Eer jou vader en jou moeder; en: Hy wat vader of moeder vloek, moet sekerlik sterwe.  
 
Mar 7:11
 
Maar julle sê: As 'n mens aan vader of moeder sê: Enige voordeel wat u van my mag geniet, is korban, dit is 'n offergawe--  
 
Mar 7:12
 
dan laat julle hom nie meer toe om iets vir sy vader of sy moeder te doen nie.  
 
Mar 7:13
 
So maak julle dan die woord van God kragteloos deur julle oorlewering wat julle bewaar het; en dergelike dinge van dieselfde aard doen julle baie.  
 
Mar 7:14
 
En Hy het die hele skare na Hom geroep en vir hulle gesê: Luister almal na My en verstaan.  
 
Mar 7:15
 
Daar is niks wat van buite af in die mens ingaan wat hom onrein kan maak nie; maar die dinge wat van hom uitgaan, dít is die dinge wat die mens onrein maak.  
 
Mar 7:16
 
As iemand ore het om te hoor, laat hom hoor!  
 
Mar 7:17
 
En toe Hy van die skare af in 'n huis gekom het, vra sy dissipels Hom oor die gelykenis.  
 
Mar 7:18
 
En Hy sê vir hulle: Is julle ook so sonder verstand? Begryp julle nie dat alles wat van buite af in die mens ingaan, hom nie onrein kan maak nie,  
 
Mar 7:19
 
omdat dit nie ingaan in sy hart nie, maar in die maag, en dit gaan in die heimlikheid uit en maak al die voedsel rein?  
 
Mar 7:20
 
En Hy sê: Wat uit die mens uitgaan, dit maak die mens onrein.  
 
Mar 7:21
 
Want van binne, uit die hart van die mense, kom die slegte gedagtes, egbreuk, hoerery, moord,  
 
Mar 7:22
 
diewery, hebsug, boosheid, bedrog, losbandigheid, afguns, lastering, hoogmoed, dwaasheid.  
 
Mar 7:23
 
Al hierdie booshede kom van binne uit en maak die mens onrein.  
 
Mar 7:24
 
En Hy het opgestaan en daarvandaan na die gebied van Tirus en Sidon vertrek. En toe Hy in die huis gegaan het, wou Hy nie dat iemand dit sou weet nie; maar Hy kon nie verborge bly nie.  
 
Mar 7:25
 
Want 'n vrou wie se dogtertjie 'n onreine gees gehad het, het van Hom gehoor en gekom en voor sy voete neergeval.  
 
Mar 7:26
 
En sy was 'n Griekse vrou, 'n Siro-Feniciese van geboorte, en sy het Hom gevra om die duiwel uit haar dogter uit te dryf.  
 
Mar 7:27
 
Maar Jesus sê vir haar: Laat eers die kinders versadig word; want dit is nie mooi om die brood van die kinders te neem en vir die hondjies te gooi nie.  
 
Mar 7:28
 
En sy antwoord en sê vir Hom: Ja, Here, maar die hondjies eet darem onder die tafel van die kinders se krummels.  
 
Mar 7:29
 
En Hy sê vir haar: Ter wille van hierdie woord kan jy gaan; die duiwel het uit jou dogter uitgevaar.  
 
Mar 7:30
 
En toe sy huis toe gaan, vind sy dat die duiwel uitgevaar het en dat haar dogter op die bed lê.  
 
Mar 7:31
 
En Hy het weer uit die gebied van Tirus en Sidon vertrek en na die see van Galiléa gegaan, deur die gebied van Dekápolis.  
 
Mar 7:32
 
Toe bring hulle na Hom 'n dowe wat swaar praat, en smeek Hom om hom die hande op te lê.  
 
Mar 7:33
 
En Hy neem hom opsy, weg van die skare, en steek sy vingers in sy ore, en spuug en raak sy tong aan;  
 
Mar 7:34
 
en nadat Hy opgekyk het na die hemel, sug Hy en sê aan hom: Éffata, dit is: Gaan oop!  
 
Mar 7:35
 
En dadelik het sy ore oopgegaan en die band van sy tong losgeraak, en hy het reg gepraat.  
 
Mar 7:36
 
En Hy het hulle beveel om dit aan niemand te sê nie; maar hoe meer Hy hulle dit beveel, hoe meer hulle dit verkondig.  
 
Mar 7:37
 
En hulle was uitermate verslae en het gesê: Hy het alles goed gedoen: die dowes laat Hy hoor en die stommes praat.  

Genesis | Exodus | Leviticus | Numbers | Deuteronomy | Joshua | Judges | Ruth | 1 Samuel | 2 Samuel | 1 Kings | 2 Kings | 1 Chronicles | 2 Chronicles | Ezra | Nehemiah | Esther | Job | Psalms | Proverbs | Ecclesiastes | Song of Solomon | Isaiah | Jeremiah | Lamentations | Ezekiel | Daniel | Hosea | Joel | Amos | Obadiah | Jonah | Micah | Nahum | Habakkuk | Zephaniah | Haggai | Zechariah | Malachi | Matthew | Mark | Luke | John | Acts | Romans | 1 Corinthians | 2 Corinthians | Galatians | Ephesians | Philippians | Colossians | 1 Thessalonians | 2 Thessalonians | 1 Timothy | 2 Timothy | Titus | Philemon | Hebrews | James | 1 Peter | 2 Peter | 1 John | 2 John | 3 John | Jude | Revelation
Matthew 1Mark 61 2 3 4 5 6 7 8 9 10 11 12 13 14 15 16 Mark 8Luke 1
© 2005 redegg.org Home | Bible | About | Help | Site Map | Violin Flash Cards