| |
Afrikaanse Bybel |  | |
 |
| |
| | Mar 11:1 | En toe hulle naby Jerusalem kom, by Bétfagé en Betánië, aan die Olyfberg, stuur Hy twee van sy dissipels uit
| |
| | Mar 11:2 | en sê vir hulle: Gaan na daardie dorp reg voor julle; en dadelik as julle daar inkom, sal julle 'n eselsvul vind wat vasgemaak is, waar geen mens op gesit het nie. Maak hom los en bring hom.
| |
| | Mar 11:3 | En as iemand vir julle sê: Waarom doen julle dit? moet julle antwoord: Die Here het hom nodig; en dadelik sal hy hom hierheen stuur.
| |
| | Mar 11:4 | En hulle het gegaan en die vul by die deur, buite op die straat, vasgemaak gevind en hom losgemaak.
| |
| | Mar 11:5 | Daarop sê sommige van die wat daar staan, vir hulle: Wat maak julle dat julle die vul losmaak?
| |
| | Mar 11:6 | En hulle antwoord hul soos Jesus beveel het. Toe laat hulle hul begaan.
| |
| | Mar 11:7 | En hulle het die vul na Jesus gebring en hulle klere daarop gelê, en Hy het op hom gaan sit.
| |
| | Mar 11:8 | Toe gooi baie mense hulle klere op die pad oop, en ander kap takke van die bome af en strooi dit op die pad.
| |
| | Mar 11:9 | En die wat voor geloop en die wat gevolg het, het uitgeroep en gesê: Hosanna! Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here!
| |
| | Mar 11:10 | Geseënd is die koninkryk wat kom in die Naam van die Here, die koninkryk van ons vader Dawid! Hosanna in die hoogste hemele!
| |
| | Mar 11:11 | En Jesus het in Jerusalem gekom en in die tempel. En nadat Hy alles rondom bekyk het, en omdat dit al aand was, het Hy met die twaalf uitgegaan na Betánië.
| |
| | Mar 11:12 | En die volgende dag, onderwyl hulle uit Betánië gaan, het Hy honger gehad;
| |
| | Mar 11:13 | en toe Hy op 'n afstand 'n vyeboom met blare sien, het Hy daarheen gegaan in die hoop om iets daaraan te vind; en toe Hy daarby kom, vind Hy niks as blare nie, want dit was nie die tyd van vye nie.
| |
| | Mar 11:14 | En Jesus spreek en sê vir hom: Laat niemand ooit in der ewigheid van jou 'n vrug eet nie! En sy dissipels het dit gehoor.
| |
| | Mar 11:15 | En hulle het in Jerusalem gekom; en toe Jesus in die tempel ingaan, begin Hy om die wat in die tempel verkoop en koop, uit te jaag; en die tafels van die geldwisselaars en die stoele van die duiweverkopers het Hy omgegooi;
| |
| | Mar 11:16 | en Hy het niemand toegelaat om enige voorwerp deur die tempel te dra nie.
| |
| | Mar 11:17 | En Hy het geleer en vir hulle gesê: Is daar nie geskrywe: My huis moet 'n huis van gebed genoem word vir al die nasies nie? Maar julle het dit 'n rowerspelonk gemaak.
| |
| | Mar 11:18 | En die skrifgeleerdes en die owerpriesters het dit gehoor en gesoek hoe hulle Hom kon ombring; want hulle was bang vir Hom, omdat die hele skare verslae was oor sy leer.
| |
| | Mar 11:19 | En toe dit laat word, het Hy uitgegaan buitekant die stad.
| |
| | Mar 11:20 | En toe hulle vroeg in die môre verbygaan, sien hulle die vyeboom, verdroog van die wortels af.
| |
| | Mar 11:21 | En Petrus het onthou en vir Hom gesê: Rabbi, kyk, die vyeboom wat U vervloek het, is verdroog.
| |
| | Mar 11:22 | Jesus antwoord en sê vir hulle: Julle moet geloof in God hê.
| |
| | Mar 11:23 | Want, voorwaar Ek sê vir julle dat elkeen wat vir hierdie berg sê: Hef jou op en werp jou in die see--en nie in sy hart twyfel nie, maar glo dat wat hy sê, sal gebeur--hy sal verkry net wat hy sê.
| |
| | Mar 11:24 | Daarom sê Ek vir julle: Alles wat julle in die gebed vra, glo dat julle dit sal ontvang, en julle sal dit verkry.
| |
| | Mar 11:25 | En wanneer julle staan en bid, vergeef as julle iets teen iemand het, sodat julle Vader wat in die hemele is, ook julle jul oortredinge mag vergewe.
| |
| | Mar 11:26 | Maar as julle nie vergewe nie, sal julle Vader wat in die hemele is, ook julle oortredinge nie vergewe nie.
| |
| | Mar 11:27 | En hulle het weer in Jerusalem gekom. En terwyl Hy in die tempel rondwandel, kom die owerpriesters en die skrifgeleerdes en die ouderlinge na Hom
| |
| | Mar 11:28 | en sê vir Hom: Deur watter gesag doen U hierdie dinge, en wie het U dié gesag gegee om dit te doen?
| |
| | Mar 11:29 | En Jesus antwoord en sê vir hulle: Ek sal julle ook een ding vra, en antwoord julle My, dan sal Ek julle vertel deur watter gesag Ek hierdie dinge doen.
| |
| | Mar 11:30 | Die doop van Johannes, was dit uit die hemel of uit mense? Antwoord My.
| |
| | Mar 11:31 | En hulle het by hulleself geredeneer en gesê: As ons sê: Uit die hemel--sal Hy sê: Waarom het julle hom dan nie geglo nie?
| |
| | Mar 11:32 | Maar as ons sê: Uit mense--dan was hulle vir die volk bang, want almal het gedink dat Johannes werklik 'n profeet was.
| |
| | Mar 11:33 | En hulle antwoord en sê vir Jesus: Ons weet nie. En Jesus antwoord en sê vir hulle: Dan vertel Ek julle ook nie deur watter gesag Ek hierdie dinge doen nie.
| |