| |
Afrikaanse Bybel |  | |
 |
| |
| | Mat 22:1 | En Jesus het weer deur gelykenisse met hulle begin spreek en gesê:
| |
| | Mat 22:2 | Die koninkryk van die hemele is soos 'n koning wat 'n bruilof vir sy seun berei het
| |
| | Mat 22:3 | en sy diensknegte uitgestuur het om die genooides na die bruilof te roep, en hulle wou nie kom nie.
| |
| | Mat 22:4 | Weer het hy ander diensknegte uitgestuur met die boodskap: Sê vir die genooides: Kyk, my maaltyd het ek berei, my beeste en vetgemaakte vee is geslag en alles is gereed. Kom na die bruilof.
| |
| | Mat 22:5 | Maar hulle het hul daaraan nie gesteur nie en weggegaan, een na sy eie stuk land en 'n ander na sy handelsaak.
| |
| | Mat 22:6 | En die origes het sy diensknegte gegryp en mishandel en doodgemaak.
| |
| | Mat 22:7 | Toe die koning dit hoor, het hy kwaad geword en sy manskappe gestuur en daardie moordenaars omgebring en hulle stad aan die brand gesteek.
| |
| | Mat 22:8 | Daarop sê hy vir sy diensknegte: Die bruilof is wel gereed, maar die genooides was dit nie werd nie.
| |
| | Mat 22:9 | Gaan dan op die kruispaaie en nooi almal wat julle mag vind, na die bruilof.
| |
| | Mat 22:10 | En daardie diensknegte het uitgegaan op die paaie en almal versamel wat hulle gevind het, slegtes sowel as goeies, en die bruilofsaal het vol gaste geword.
| |
| | Mat 22:11 | En toe die koning ingaan om na die gaste te kyk, sien hy daar iemand wat nie 'n bruilofskleed aan het nie.
| |
| | Mat 22:12 | En hy sê vir hom: Vriend, hoe het jy hier ingekom sonder 'n bruilofskleed aan? En hy kon geen woord sê nie.
| |
| | Mat 22:13 | Toe sê die koning vir sy dienaars: Bind sy hande en voete, neem hom weg en werp hom in die buitenste duisternis. Daar sal geween wees en gekners van die tande.
| |
| | Mat 22:14 | Want baie is geroep, maar min uitverkies.
| |
| | Mat 22:15 | Toe gaan die Fariseërs saam raad hou hoe om Hom in sy woord te verstrik.
| |
| | Mat 22:16 | En hulle stuur hul dissipels saam met die Herodiane na Hom en sê: Meester, ons weet dat U waaragtig is en die weg van God in waarheid leer en U aan niemand steur nie, want U sien nie die persoon van mense aan nie--
| |
| | Mat 22:17 | sê dan vir ons, wat dink U: Is dit geoorloof om aan die keiser belasting te betaal of nie?
| |
| | Mat 22:18 | Maar Jesus het hulle boosheid bemerk en gesê:
| |
| | Mat 22:19 | Geveinsdes, waarom versoek julle My? Wys My die belastingmunt. En hulle het vir Hom 'n penning gebring.
| |
| | Mat 22:20 | En Hy sê vir hulle: Wie se beeld en opskrif is dit?
| |
| | Mat 22:21 | Hulle antwoord Hom: Die keiser s'n. Daarop sê Hy vir hulle: Betaal dan aan die keiser wat die keiser toekom, en aan God wat God toekom.
| |
| | Mat 22:22 | En toe hulle dit hoor, was hulle verwonderd en het Hom verlaat en weggegaan.
| |
| | Mat 22:23 | Dieselfde dag kom daar na Hom Sadduseërs, hulle wat sê dat daar geen opstanding is nie, en vra Hom
| |
| | Mat 22:24 | en sê: Meester, Moses het gesê: As iemand sonder kinders sterwe, moet sy broer sy vrou trou en kinders vir sy broer verwek.
| |
| | Mat 22:25 | Nou was daar by ons sewe broers, en die eerste het getrou en gesterwe; en omdat hy geen kinders gehad het nie, het hy sy vrou vir sy broer agtergelaat.
| |
| | Mat 22:26 | So ook die tweede en die derde tot die sewende toe.
| |
| | Mat 22:27 | En laaste van almal het die vrou ook gesterwe.
| |
| | Mat 22:28 | In die opstanding dan, van watter een van die sewe sal sy die vrou wees--want hulle almal het haar gehad?
| |
| | Mat 22:29 | Toe antwoord Jesus en sê vir hulle: Julle dwaal, omdat julle die Skrifte nie ken nie en ook nie die krag van God nie.
| |
| | Mat 22:30 | Want in die opstanding trou hulle nie en word ook nie in die huwelik uitgegee nie, maar is soos engele van God in die hemel.
| |
| | Mat 22:31 | En wat die opstanding van die dode betref--het julle nie die woord gelees wat tot julle deur God gespreek is nie:
| |
| | Mat 22:32 | Ek is die God van Abraham en die God van Isak en die God van Jakob? God is nie 'n God van dooies nie, maar van lewendes.
| |
| | Mat 22:33 | En toe die skare dit hoor, was hulle verslae oor sy leer.
| |
| | Mat 22:34 | En toe die Fariseërs hoor dat Hy die Sadduseërs die mond gestop het, het hulle almal saam vergader.
| |
| | Mat 22:35 | En een van hulle, 'n wetgeleerde, het 'n vraag gestel om Hom te versoek en gesê:
| |
| | Mat 22:36 | Meester, wat is die groot gebod in die wet?
| |
| | Mat 22:37 | En Jesus antwoord hom: Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand.
| |
| | Mat 22:38 | Dit is die eerste en groot gebod.
| |
| | Mat 22:39 | En die tweede wat hiermee gelykstaan: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.
| |
| | Mat 22:40 | Aan hierdie twee gebooie hang die hele wet en die profete.
| |
| | Mat 22:41 | En toe die Fariseërs saamgekom het, vra Jesus hulle
| |
| | Mat 22:42 | en sê: Wat dink julle van die Christus? Wie se seun is Hy? Hulle antwoord Hom: Dawid s'n.
| |
| | Mat 22:43 | Hy sê vir hulle: Hoe is dit dan dat Dawid Hom in die Gees Here noem as hy sê:
| |
| | Mat 22:44 | Die Here het tot my Here gespreek: Sit aan my regterhand totdat Ek u vyande gemaak het 'n voetbank van u voete?
| |
| | Mat 22:45 | As Dawid Hom dan Here noem, hoe is Hy sy seun?
| |
| | Mat 22:46 | En niemand kon Hom 'n woord antwoord nie; ook het geeneen van daardie dag af dit meer gewaag om Hom vrae te stel nie.
| |