| |
Afrikaanse Bybel |  | |
 |
| |
| | Mat 21:1 | En toe hulle naby Jerusalem gekom en Bétfagé aan die Olyfberg bereik het, stuur Jesus twee dissipels uit en sê vir hulle:
| |
| | Mat 21:2 | Gaan na daardie dorp reg voor julle, en dadelik sal julle 'n eselin vind wat vasgemaak is, en 'n vul by haar. Maak haar los en bring hulle vir My.
| |
| | Mat 21:3 | En as iemand vir julle iets sê, moet julle antwoord: Die Here het hulle nodig; en dadelik sal hy hulle stuur.
| |
| | Mat 21:4 | En dit het alles gebeur, sodat vervul sou word die woord wat deur die profeet gespreek is:
| |
| | Mat 21:5 | Sê vir die dogter van Sion: Kyk, jou Koning kom na jou toe, sagmoedig, en Hy sit op 'n esel, ja, 'n jong esel, die vul van 'n pakdier.
| |
| | Mat 21:6 | En die dissipels het gegaan en gedoen soos Jesus hulle beveel het;
| |
| | Mat 21:7 | hulle het die esel en die vul gebring en hulle klere daarop gelê, en Hy het daarop gaan sit.
| |
| | Mat 21:8 | En die grootste deel van die skare het hulle klere op die pad oopgegooi, en ander het takke van die bome afgekap en op die pad gestrooi.
| |
| | Mat 21:9 | En die skare wat voor geloop en die wat gevolg het, het uitgeroep en gesê: Hosanna vir die Seun van Dawid! Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here! Hosanna in die hoogste hemele!
| |
| | Mat 21:10 | En toe Hy in Jerusalem inkom, het die hele stad in opskudding geraak en gesê: Wie is hierdie man?
| |
| | Mat 21:11 | En die skare sê: Dit is Jesus, die profeet, van Násaret in Galiléa.
| |
| | Mat 21:12 | En Jesus het in die tempel van God ingegaan en almal wat in die tempel verkoop en koop, uitgejaag en die tafels van die geldwisselaars en die stoele van die duiweverkopers omgegooi.
| |
| | Mat 21:13 | En Hy sê vir hulle: Daar is geskrywe: My huis moet 'n huis van gebed genoem word. Maar julle het dit 'n rowerspelonk gemaak.
| |
| | Mat 21:14 | En daar het blindes en kreupeles na Hom gekom in die tempel, en Hy het hulle gesond gemaak.
| |
| | Mat 21:15 | En toe die owerpriesters en skrifgeleerdes die wonderwerke sien wat Hy gedoen het, en die kinders wat in die tempel uitroep en sê: Hosanna vir die Seun van Dawid! was hulle verontwaardig
| |
| | Mat 21:16 | en sê vir Hom: Hoor U wat hulle daar sê? En Jesus antwoord hulle: Ja, het julle nooit gelees: Uit die mond van kinders en suigelinge het U vir U lof berei nie?
| |
| | Mat 21:17 | En Hy het hulle verlaat en uit die stad uitgegaan na Betánië en daar vernag.
| |
| | Mat 21:18 | En vroeg in die môre toe Hy teruggaan na die stad, het Hy honger gehad;
| |
| | Mat 21:19 | en Hy sien 'n vyeboom langs die pad en gaan daarnatoe; maar Hy het niks daaraan gevind nie as net blare alleen; en Hy sê vir hom: Laat daar uit jou tot in ewigheid nooit weer 'n vrug kom nie! En onmiddellik het die vyeboom verdroog.
| |
| | Mat 21:20 | En toe die dissipels dit sien, was hulle verwonderd en sê: Hoe het die vyeboom so onmiddellik verdroog?
| |
| | Mat 21:21 | Maar Jesus antwoord en sê vir hulle: Voorwaar Ek sê vir julle, as julle geloof het en nie twyfel nie, sal julle nie alleen doen wat met die vyeboom gebeur het nie; maar al sê julle ook vir hierdie berg: Hef jou op en werp jou in die see--sal dit gebeur.
| |
| | Mat 21:22 | En alles wat julle in die gebed vra, sal julle ontvang as julle glo.
| |
| | Mat 21:23 | En toe Hy in die tempel gegaan het, kom die owerpriesters en die ouderlinge van die volk na Hom terwyl Hy besig was om te leer, en hulle sê: Deur watter gesag doen U hierdie dinge, en wie het U hierdie gesag gegee?
| |
| | Mat 21:24 | En Jesus antwoord en sê vir hulle: Ek sal julle ook een ding vra, en as julle dit vir My sê, sal Ek julle ook vertel deur watter gesag Ek hierdie dinge doen.
| |
| | Mat 21:25 | Die doop van Johannes, waar was dit vandaan, uit die hemel of uit mense? En hulle het by hulleself geredeneer en gesê: As ons sê: Uit die hemel--dan sal Hy ons vra: Waarom het julle hom dan nie geglo nie?
| |
| | Mat 21:26 | En as ons sê: Uit mense--dan moet ons oppas vir die menigte, want almal hou Johannes vir 'n profeet.
| |
| | Mat 21:27 | Toe antwoord hulle Jesus en sê: Ons weet nie. Hy sê toe ook vir hulle: Dan vertel Ek julle ook nie deur watter gesag Ek hierdie dinge doen nie.
| |
| | Mat 21:28 | Maar wat dink julle? 'n Man het twee kinders gehad, en hy gaan na die eerste en sê: Kind, gaan werk vandag in my wingerd.
| |
| | Mat 21:29 | En hy antwoord en sê: Ek wil nie; maar later het hy berou gekry en gegaan.
| |
| | Mat 21:30 | Toe het hy na die tweede gegaan en vir hom net so gesê; en hy antwoord en sê: Ja, heer. En hy het nie gegaan nie.
| |
| | Mat 21:31 | Wie van die twee het die wil van die vader gedoen? Hulle antwoord Hom: Die eerste. Jesus sê vir hulle: Voorwaar Ek sê vir julle, die tollenaars en die hoere gaan julle voor in die koninkryk van God.
| |
| | Mat 21:32 | Want Johannes het na julle gekom in die weg van geregtigheid, en julle het hom nie geglo nie; maar die tollenaars en die hoere het hom geglo. En julle het dit gesien en tog nie later berou gekry om hom te glo nie.
| |
| | Mat 21:33 | Luister na 'n ander gelykenis: Daar was 'n sekere huisheer wat 'n wingerd geplant het; en hy het 'n heining daarom gesit en 'n parskuip daarin gegrawe en 'n wagtoring gebou, en hy het dit aan landbouers verhuur en op reis gegaan.
| |
| | Mat 21:34 | En toe die vrugtetyd nader kom, stuur hy sy diensknegte na die landbouers om sy vrugte te ontvang.
| |
| | Mat 21:35 | Maar die landbouers het sy diensknegte geneem en een geslaan en 'n ander een doodgemaak en 'n ander een gestenig.
| |
| | Mat 21:36 | Weer het hy ander diensknegte gestuur, meer as die eerstes, en hulle het met dié net so gemaak.
| |
| | Mat 21:37 | Oplaas het hy sy seun na hulle gestuur en gesê: Hulle sal my seun ontsien.
| |
| | Mat 21:38 | Maar toe die landbouers die seun sien, het hulle onder mekaar gesê: Dit is die erfgenaam; kom laat ons hom doodmaak en sy erfdeel in besit neem.
| |
| | Mat 21:39 | En hulle het hom geneem en buitekant die wingerd uitgewerp en doodgemaak.
| |
| | Mat 21:40 | Wanneer die eienaar van die wingerd dan kom, wat sal hy met daardie landbouers doen?
| |
| | Mat 21:41 | Hulle antwoord Hom: Die slegte mense--hy sal hulle 'n slegte dood laat sterwe en die wingerd verhuur aan ander landbouers wat hom die vrugte op die regte tyd sal gee.
| |
| | Mat 21:42 | Jesus sê vir hulle: Het julle nooit in die Skrifte gelees nie: Die steen wat die bouers verwerp het, dit het 'n hoeksteen geword. Hy het van die Here gekom en is wonderbaar in ons oë?
| |
| | Mat 21:43 | Daarom sê Ek vir julle: Die koninkryk van God sal van julle weggeneem en aan 'n volk gegee word wat die vrugte daarvan sal dra.
| |
| | Mat 21:44 | En hy wat op hierdie steen val, sal verpletter word; maar elkeen op wie hy val, dié sal hy vermorsel.
| |
| | Mat 21:45 | En toe die owerpriesters en die Fariseërs sy gelykenisse hoor, het hulle begryp dat Hy van hulle spreek.
| |
| | Mat 21:46 | En hulle het probeer om Hom in hulle mag te kry, maar hulle was bang vir die skare, omdat dié Hom vir 'n profeet gehou het.
| |