| |
Afrikaanse Bybel |  | |
 |
| |
| | Hsa 5:1 | Hoor dit, o priesters, en let op, o huis van Israel, en gee gehoor, o huis van die koning! Want die vonnis raak julle, omdat julle vir Mispa 'n vangnet geword het en 'n uitgespreide net op Tabor.
| |
| | Hsa 5:2 | Ja, in verderflike praktyke verdiep die afvalliges hulle, maar Ek sal hulle almal tot tugtiging wees.
| |
| | Hsa 5:3 | Ek ken Efraim, en Israel is vir My nie verborge nie; want nou het jy owerspel bedrywe, o Efraim! Israel is verontreinig.
| |
| | Hsa 5:4 | Hulle dade gedoog geen terugkeer tot hulle God nie, want daar is 'n gees van hoerery in hulle binneste, en hulle ken die HERE nie.
| |
| | Hsa 5:5 | En die trotsheid van Israel getuig openlik teen hom; en Israel en Efraim sal struikel deur hulle ongeregtigheid, ook Juda sal saam met hulle struikel.
| |
| | Hsa 5:6 | Met hulle kleinvee en hulle beeste sal hulle heengaan om die HERE te soek, maar Hom nie vind nie. Hy het Hom aan hulle onttrek.
| |
| | Hsa 5:7 | Hulle het troueloos gehandel teen die HERE, want hulle het onegte kinders verwek; nou sal die nuwemaan hulle met hul velde verteer.
| |
| | Hsa 5:8 | Blaas die basuin in Gíbea, die trompet in Rama! Hef aan die krygsgeskreeu in Bet-Awen. Agter jou kom dit, Benjamin!
| |
| | Hsa 5:9 | Efraim sal 'n woesteny word op die dag van straf; onder die stamme van Israel maak Ek bekend wat seker is.
| |
| | Hsa 5:10 | Die vorste van Juda is soos hulle wat die grenslyne verlê. Ek sal my grimmigheid oor hulle uitgiet soos water.
| |
| | Hsa 5:11 | Efraim is verdruk, verbreek deur die oordeel; want dit het hom behaag om na die gebod van mense te wandel.
| |
| | Hsa 5:12 | Daarom is Ek vir Efraim soos 'n mot en vir die huis van Juda soos 'n verrotting in die gebeente.
| |
| | Hsa 5:13 | Toe Efraim sy krankheid sien en Juda sy sweer, het Efraim na Assur gegaan en na koning Jareb gestuur; maar hy kan julle nie genees en julle van die sweer nie gesond maak nie.
| |
| | Hsa 5:14 | Want Ek is soos 'n leeu vir Efraim, en soos 'n jong leeu vir die huis van Juda; Ek, Ek verskeur en gaan heen, Ek dra weg sonder dat iemand red.
| |
| | Hsa 5:15 | Dan gaan Ek heen, Ek keer na my woonplek terug, totdat hulle skuld beken en my aangesig soek. In hulle nood sal hulle My soek.
| |