All NT OTBook
Compare Texts
Jeremiah 1 Lamentations 2

Lamentations 3:1-66

Lamentations 4 Ezekiel 1

Afrikaanse Bybel

 
 
 
Lam 3:1
 
Alef. Ek is die man wat ellende gesien het deur die roede van sy grimmigheid.  
 
Lam 3:2
 
My het Hy gelei en laat wandel in duisternis sonder lig.  
 
Lam 3:3
 
Ja, altyd weer draai Hy die hele dag sy hand teen my.  
 
Lam 3:4
 
Bet. Hy het my vlees en my vel laat wegteer, my gebeente verbreek.  
 
Lam 3:5
 
Hy het my met 'n bouwerk omsingel van gif en moeite.  
 
Lam 3:6
 
Hy het my in donker plekke laat sit soos die wat lankal dood is.  
 
Lam 3:7
 
Gimel. Hy het my toegemuur, sodat ek nie kan uitkom nie, my koperboeie swaar gemaak.  
 
Lam 3:8
 
Al skreeu ek ook en al roep ek om hulp, Hy laat my gebed onverhoord.  
 
Lam 3:9
 
Hy het my weë toegemuur met gekapte klip, my paaie onbegaanbaar gemaak.  
 
Lam 3:10
 
Dalet. Hy is 'n beer wat my voorlê, 'n leeu in skuilplekke.  
 
Lam 3:11
 
Hy het my weë laat wegdraai en my verskeur, my tot 'n woesteny gemaak.  
 
Lam 3:12
 
Hy het sy boog gespan en my as 'n teiken vir die pyl opgestel.  
 
Lam 3:13
 
He. Hy het die pyle uit sy pylkoker in my niere laat ingaan.  
 
Lam 3:14
 
Ek het 'n belagging geword vir my hele volk, hulle spotlied die hele dag.  
 
Lam 3:15
 
Hy het my met bitter kruie versadig, my genoeg wilde-als laat drink.  
 
Lam 3:16
 
Wau. En Hy het my die tande op gruisklippertjies laat stukkend byt, my in die as neergedruk.  
 
Lam 3:17
 
En U het my siel van die vrede verstoot, ek het die goeie vergeet.  
 
Lam 3:18
 
Ja, ek het gesê: My roem het vergaan en my hoop op die HERE.  
 
Lam 3:19
 
Sajin. Dink aan my ellende en my omswerwing, aan die wilde-als en die gif.  
 
Lam 3:20
 
As my siel terdeë daaraan dink, buig hy hom neer in my.  
 
Lam 3:21
 
Dit sal ek ter harte neem, daarom sal ek hoop:  
 
Lam 3:22
 
Get. dit is die goedertierenhede van die HERE dat ons nie omgekom het nie, want sy barmhartighede het geen einde nie;  
 
Lam 3:23
 
hulle is elke môre nuut; u trou is groot.  
 
Lam 3:24
 
Die HERE is my deel, sê my siel, daarom sal ek op Hom hoop.  
 
Lam 3:25
 
Tet. Goed is die HERE vir die wat op Hom hoop, vir die siel wat Hom soek.  
 
Lam 3:26
 
Dit is goed om in stilheid te hoop op die hulp van die HERE.  
 
Lam 3:27
 
Dit is goed vir 'n man dat hy die juk in sy jeug dra.  
 
Lam 3:28
 
Jod. Laat hom eensaam sit en swyg, as Hy hom dit opgelê het.  
 
Lam 3:29
 
Laat hy sy mond in die stof steek--miskien is daar hoop!  
 
Lam 3:30
 
Laat hy die wang gee vir die wat hom slaan, laat hy genoeg kry van smaad.  
 
Lam 3:31
 
Kaf. Want die Here sal nie vir ewig verstoot nie.  
 
Lam 3:32
 
Maar as Hy bedroef het, ontferm Hy Hom na die grootheid van sy goedertierenhede;  
 
Lam 3:33
 
want nie van harte verdruk of bedroef Hy die mensekinders nie.  
 
Lam 3:34
 
Lamed. Dat hulle al die gevangenes van die aarde onder hul voete vertrap,  
 
Lam 3:35
 
dat hulle die reg van 'n man verdraai voor die aangesig van die Allerhoogste,  
 
Lam 3:36
 
dat hulle 'n mens onregverdig behandel in sy regsaak--het die HERE dit nie gesien nie?  
 
Lam 3:37
 
Mem. Wie spreek daar, en dit gebeur? Het die Here dit nie beveel nie?  
 
Lam 3:38
 
Gaan uit die mond van die Allerhoogste nie kwaad sowel as goed nie?  
 
Lam 3:39
 
Wat klaag 'n mens in sy lewe? Laat elkeen klaag oor sy sondes.  
 
Lam 3:40
 
Noen. Laat ons ons weë naspeur en deursoek en ons tot die HERE bekeer;  
 
Lam 3:41
 
laat ons ons hart saam met die hande ophef tot God in die hemel en sê:  
 
Lam 3:42
 
Ons het oortree en ons was wederstrewig--U het nie vergewe nie.  
 
Lam 3:43
 
Samek. U het U in toorn gehul en ons agtervolg, U het gedood sonder verskoning.  
 
Lam 3:44
 
U het Uself in 'n wolk gehul, sodat daar geen gebed kon deurdring nie;  
 
Lam 3:45
 
U het ons 'n uitvaagsel en 'n wegwerpsel onder die volke gemaak.  
 
Lam 3:46
 
Pe. Al ons vyande het hulle mond teen ons oopgerek;  
 
Lam 3:47
 
skrik en kuil het ons deel geword, ondergang en verbreking.  
 
Lam 3:48
 
My oog loop af in waterstrome oor die verbreking van die dogter van my volk.  
 
Lam 3:49
 
Ajin. My oog vloei rusteloos weg sonder ophou,  
 
Lam 3:50
 
totdat die HERE uit die hemel neersien en aanskou.  
 
Lam 3:51
 
My oog gee my pyn oor al die dogters van my stad.  
 
Lam 3:52
 
Sade. Hulle het my soos 'n voël rondgejaag, die wat sonder oorsaak my vyande is;  
 
Lam 3:53
 
hulle het my lewe in 'n kuil tot niet gemaak en klippe op my gegooi.  
 
Lam 3:54
 
Water het oor my hoof gestroom, ek het gesê: Dit is klaar met my!  
 
Lam 3:55
 
Kof. Ek roep u Naam aan, HERE, uit die onderste kuil.  
 
Lam 3:56
 
U hoor my stem; verberg u oor nie vir my ontboeseming, vir my hulpgeroep nie.  
 
Lam 3:57
 
U kom nader die dag as ek U aanroep, U sê: Wees nie bevrees nie!  
 
Lam 3:58
 
Resj. U, Here, verdedig my regsaak, U verlos my lewe.  
 
Lam 3:59
 
U sien, HERE, my verdrukking; verskaf my tog reg.  
 
Lam 3:60
 
U sien al hulle wraaksug, al hulle planne teen my.  
 
Lam 3:61
 
Sjin. U hoor hulle smaadrede, HERE, al hulle planne teen my,  
 
Lam 3:62
 
die lippe van my teëstanders en hulle bedenksels die hele dag teen my.  
 
Lam 3:63
 
Aanskou tog hulle sit en hulle opstaan, ek is hulle spotlied.  
 
Lam 3:64
 
Tau. U sal hulle vergeld vir wat hulle gedoen het, HERE.  
 
Lam 3:65
 
U sal hulle gee verblinding van hart, u vervloeking oor hulle.  
 
Lam 3:66
 
U sal hulle in toorn vervolg en hulle verdelg van onder die hemel van die HERE uit.  

Genesis | Exodus | Leviticus | Numbers | Deuteronomy | Joshua | Judges | Ruth | 1 Samuel | 2 Samuel | 1 Kings | 2 Kings | 1 Chronicles | 2 Chronicles | Ezra | Nehemiah | Esther | Job | Psalms | Proverbs | Ecclesiastes | Song of Solomon | Isaiah | Jeremiah | Lamentations | Ezekiel | Daniel | Hosea | Joel | Amos | Obadiah | Jonah | Micah | Nahum | Habakkuk | Zephaniah | Haggai | Zechariah | Malachi | Matthew | Mark | Luke | John | Acts | Romans | 1 Corinthians | 2 Corinthians | Galatians | Ephesians | Philippians | Colossians | 1 Thessalonians | 2 Thessalonians | 1 Timothy | 2 Timothy | Titus | Philemon | Hebrews | James | 1 Peter | 2 Peter | 1 John | 2 John | 3 John | Jude | Revelation
Jeremiah 1Lamentations 21 2 3 4 5 Lamentations 4Ezekiel 1
© 2005 redegg.org Home | Bible | About | Help | Site Map | Violin Flash Cards