| |
Afrikaanse Bybel |  | |
 |
| |
| | Isa 21:1 | Godspraak oor die woestyn van die see. Soos stormwinde in die Suidland deurtrek, kom dit uit die woestyn, uit 'n vreeslike land!
| |
| | Isa 21:2 | 'n Harde gesig is my te kenne gegee: Die ontroue handel troueloos, en die verwoester verwoes. Trek op, Elam! Beleër, Médië! Aan alle gesug maak Ek 'n einde.
| |
| | Isa 21:3 | Daarom is my heupe vol siddering, weë het my aangegryp soos die weë van een wat baar; ek buig my krom, sodat ek nie hoor nie; ek is verskrik, sodat ek nie sien nie.
| |
| | Isa 21:4 | My hart duisel, angs oorval my; dit maak vir my die skemeraand wat ek liefhet, tot 'n verskrikking.
| |
| | Isa 21:5 | Hulle maak die tafel gereed, hulle sprei die tapyt, hulle eet, drink.... Staan op, o vorste, salf die skild!
| |
| | Isa 21:6 | Want so het die Here vir my gesê: Gaan heen, sit 'n wag uit; laat hom te kenne gee wat hy sien;
| |
| | Isa 21:7 | en sien hy 'n stoet ruiters, twee aan twee, 'n stoet esels, 'n stoet kamele, dan moet hy skerp luister, so skerp as hy kan.
| |
| | Isa 21:8 | En hy het geroep soos 'n leeu. Op die wagtoring, Here, staan ek gedurig by dag, en op my wagpos stel ek my al die nagte.
| |
| | Isa 21:9 | En kyk, daar kom 'n stoet manne, ruiters twee aan twee. Toe het hy aangehef en gesê: Geval, geval het Babel, en hulle het al die gesnede beelde van sy gode verbrysel teen die grond.
| |
| | Isa 21:10 | o My vertrapte en gedorste volk, wat ek gehoor het van die HERE van die leërskare, die God van Israel, het ek julle bekend gemaak.
| |
| | Isa 21:11 | Godspraak oor Duma. Daar roep een my toe van Seïr af: Wagter, hoe ver is dit in die nag? Wagter, hoe ver in die nag?
| |
| | Isa 21:12 | Die wagter sê: Die môre kom, en ook die nag. Wil julle vra, vra; keer terug, kom.
| |
| | Isa 21:13 | Godspraak teen Arabië. In die bos in Arabië moet julle vernag, karavane van die Dedaniete!
| |
| | Isa 21:14 | Bring vir die dorstige water tegemoet! Die inwoners van die land Tema het die vlugteling met brood teëgekom.
| |
| | Isa 21:15 | Want hulle het gevlug vir swaarde, vir die swaard wat uitgetrek en vir die boog wat gespan is, en vir die druk van die oorlog.
| |
| | Isa 21:16 | Want so het die Here vir my gesê: Binne 'n jaar--soos die jare van 'n dagloner--sal al die heerlikheid van Kedar verdwyn.
| |
| | Isa 21:17 | En wat oorbly van die getal boë van die Kedareense helde, sal min wees; want die HERE, die God van Israel, het dit gespreek.
| |