| |
Afrikaanse Bybel |  | |
 |
| |
| | Isa 16:1 | Stuur die lammers van die regeerder van die land uit die rotsstreek weg na die woestyn, na die berg van die dogter van Sion.
| |
| | Isa 16:2 | En soos voëls wat vlug, 'n nes wat verjaag is, sal die dogters van Moab wees by die driwwe van die Arnon.
| |
| | Isa 16:3 | Gee raad, gee beslissing, maak jou skaduwee soos die nag op die volle middag, verberg die wat verdryf is, verraai die vlugteling nie!
| |
| | Isa 16:4 | Laat my mense wat verdryf is, by jou vertoef! Aangaande Moab, wees vir hulle 'n skuilplek vanweë die verwoester. Want gedaan is die verdrukker, klaar is dit met die verwoesting, weg is die vertrappers uit die land!
| |
| | Isa 16:5 | En opgerig is deur goedgunstigheid 'n troon, en daarop sit een in getrouheid in Dawid se tent, 'n regter wat die reg soek en gou is in geregtigheid.
| |
| | Isa 16:6 | Ons het gehoor van die trotsheid van Moab--hy is baie trots! --van sy hoogmoed en sy trotsheid en sy grimmigheid, sy onbehoorlike grootpratery.
| |
| | Isa 16:7 | Daarom sal Moab oor Moab huil, almal saam huil; oor die druiwekoeke van Kir-Haréset sal julle sug, heeltemal verslae.
| |
| | Isa 16:8 | Want die wingerde van Hesbon het verwelk; die wingerdstok van Sibma--sy edele druiwe het die beheersers van die nasies neergewerp; dit het gekom tot by Jaéser, dit het in die woestyn ingedwaal; sy ranke het uitgesprei, het oor die see gegaan.
| |
| | Isa 16:9 | Daarom beween ek die wingerdstok van Sibma met die geween van Jaéser; ek maak jou nat met my trane, Hesbon en Eleále, omdat die vreugdegeroep jou somervrugte en jou oes oorval het,
| |
| | Isa 16:10 | en vreugde en gejuig weggeneem is uit die vrugteboord, en in die wingerde nie gejubel of gejuig word nie; die druiwetrapper trap geen wyn in die parskuipe nie; Ek het die vreugdegeroep laat ophou.
| |
| | Isa 16:11 | Daarom klaag my ingewande oor Moab soos 'n siter, en my binneste oor Kir-Heres.
| |
| | Isa 16:12 | En as Moab verskyn, as hy hom vermoei op die hoogte en in sy heiligdom ingaan om te aanbid, dan sal hy niks uitrig nie.
| |
| | Isa 16:13 | Dit is die woord wat die HERE tevore teen Moab gespreek het.
| |
| | Isa 16:14 | En nou spreek die HERE en sê: Binne drie jaar--soos die jare van 'n dagloner--sal die heerlikheid van Moab veragtelik gemaak word saam met die hele groot menigte; en die oorblyfsel sal min, gering, onmagtig wees.
| |