All NT OTBook
Compare Texts
Psalms 1 Proverbs 7

Proverbs 8:1-36

Proverbs 9 Ecclesiastes 1

Afrikaanse Bybel

 
 
 
Pro 8:1
 
Roep die Wysheid nie, en verhef die Verstandigheid nie haar stem nie?  
 
Pro 8:2
 
Op die top van die hoogtes langs die weg, op die kruispunt van die paaie staan sy,  
 
Pro 8:3
 
aan die kant van die poorte by die uitgang van die stad, by die ingang van die deure roep sy hardop:  
 
Pro 8:4
 
Ek roep na julle, manne, en my stem is tot die mensekinders.  
 
Pro 8:5
 
Leer tog skranderheid verstaan, eenvoudiges, en dwase, leer verstandigheid verstaan.  
 
Pro 8:6
 
Hoor, want ek sal voortreflike dinge spreek, en my lippe gaan oop vir wat reg is.  
 
Pro 8:7
 
Want my verhemelte spreek waarheid, en goddeloosheid is vir my lippe 'n gruwel.  
 
Pro 8:8
 
Al die woorde van my mond is reg, daarin is niks wat slinks of vals is nie,  
 
Pro 8:9
 
hulle is almal duidelik vir die verstandige en reg vir die wat kennis gevind het.  
 
Pro 8:10
 
Neem my tug aan, en nie silwer nie, en kennis liewer as uitgesoekte goud.  
 
Pro 8:11
 
Want wysheid is beter as korale, en al die kleinode kan daar nie mee vergelyk word nie.  
 
Pro 8:12
 
Ek, Wysheid, is vertroud met die skranderheid, en ek vind kennis van regte oorleg.  
 
Pro 8:13
 
Die vrees van die HERE is om te haat wat sleg is; hoogmoed en trotsheid en 'n slegte wandel en 'n huigelagtige mond haat ek.  
 
Pro 8:14
 
Raad en beleid is myne, ek is die insig, sterkte is myne.  
 
Pro 8:15
 
Deur my regeer die konings en stel die maghebbers vas wat reg is;  
 
Pro 8:16
 
deur my heers die vorste en die edeles, al die regters van die aarde.  
 
Pro 8:17
 
Ék het lief die wat my liefhet, en die wat my soek, sal my vind.  
 
Pro 8:18
 
Rykdom en eer is by my, duursame goed en geregtigheid.  
 
Pro 8:19
 
My vrug is beter as goud en as fyn goud, en my opbrings as uitgesoekte silwer.  
 
Pro 8:20
 
Ek wandel op die weg van geregtigheid, in die middel van die paaie van reg,  
 
Pro 8:21
 
om die wat my liefhet, 'n besitting te laat erwe, en hulle skatkamers maak ek vol.  
 
Pro 8:22
 
Die HERE het my berei as eersteling van sy weg, voor sy werke, van ouds af.  
 
Pro 8:23
 
Van ewigheid af is ek geformeer, van die begin af, van die voortyd van die aarde af.  
 
Pro 8:24
 
Toe daar nog geen wêreldvloede was nie, is ek gebore; toe fonteine, swaar van water, nog nie daar was nie;  
 
Pro 8:25
 
voordat die berge ingesink het, voor die heuwels is ek gebore;  
 
Pro 8:26
 
toe Hy die aarde en die velde en al die stoffies van die wêreld nog nie gemaak het nie.  
 
Pro 8:27
 
Toe Hy die hemele berei het, was ek daar; toe Hy 'n kring afgetrek het op die oppervlakte van die wêreldvloed;  
 
Pro 8:28
 
toe Hy die wolke daarbo bevestig het, toe die bronne van die wêreldvloed sterk geword het;  
 
Pro 8:29
 
toe Hy vir die see sy grens gestel het, dat die waters sy bevel nie sou oortree nie; toe Hy die fondamente van die aarde vasgelê het--  
 
Pro 8:30
 
toe was ek 'n kunstenaar naas Hom, en ek was dag vir dag vol verlustiging en het gespeel voor sy aangesig altyd,  
 
Pro 8:31
 
en het gespeel op sy wêreldrond, en my verlustiginge was met die mensekinders.  
 
Pro 8:32
 
Luister dan nou na my, seuns; want gelukkig is hulle wat my weë bewaar.  
 
Pro 8:33
 
Luister na tug en word wys, en verwerp dit nie.  
 
Pro 8:34
 
Gelukkig is die mens wat na my luister, om dag vir dag te waak aan my deure, by die syposte van my poorte die wag te hou.  
 
Pro 8:35
 
Want hy wat my vind, het die lewe gevind en verkry 'n welbehae van die HERE.  
 
Pro 8:36
 
Maar hy wat my mis, benadeel sy eie lewe; almal wat my haat, het die dood lief.  

Genesis | Exodus | Leviticus | Numbers | Deuteronomy | Joshua | Judges | Ruth | 1 Samuel | 2 Samuel | 1 Kings | 2 Kings | 1 Chronicles | 2 Chronicles | Ezra | Nehemiah | Esther | Job | Psalms | Proverbs | Ecclesiastes | Song of Solomon | Isaiah | Jeremiah | Lamentations | Ezekiel | Daniel | Hosea | Joel | Amos | Obadiah | Jonah | Micah | Nahum | Habakkuk | Zephaniah | Haggai | Zechariah | Malachi | Matthew | Mark | Luke | John | Acts | Romans | 1 Corinthians | 2 Corinthians | Galatians | Ephesians | Philippians | Colossians | 1 Thessalonians | 2 Thessalonians | 1 Timothy | 2 Timothy | Titus | Philemon | Hebrews | James | 1 Peter | 2 Peter | 1 John | 2 John | 3 John | Jude | Revelation
Psalms 1Proverbs 71 2 3 4 5 6 7 8 9 10 11 12 13 14 15 16 17 18 19 20 21 22 23 24 25 26 27 28 29 30 31 Proverbs 9Ecclesiastes 1
© 2005 redegg.org Home | Bible | About | Help | Site Map | Violin Flash Cards