| |
Afrikaanse Bybel |  | |
 |
| |
| | Job 7:1 | Het die mens nie 'n stryd op die aarde nie? En is sy dae nie soos die dae van 'n dagloner nie?
| |
| | Job 7:2 | Soos 'n slaaf wat hyg na die skaduwee, en soos 'n dagloner wat wag op sy werkloon,
| |
| | Job 7:3 | so het ek erfgenaam geword van maande van teleurstelling en is nagte van moeite vir my bestem.
| |
| | Job 7:4 | As ek gaan lê, dink ek: Wanneer sal ek opstaan? Maar die aand is lank, en ek word sat van al die omdraai tot die môreskemering toe.
| |
| | Job 7:5 | My vlees is bekleed met wurms en stofklonte; my vel trek opmekaar en etter dan weer.
| |
| | Job 7:6 | My dae is vinniger as 'n wewerspoel en verdwyn sonder verwagting.
| |
| | Job 7:7 | Bedink tog dat my lewe wind is; my oog sal die voorspoed nie weer sien nie.
| |
| | Job 7:8 | Die oog van hom wat my sien, sal my nie meer aanskou nie. U oë is op my--en ek is daar nie!
| |
| | Job 7:9 | Die wolk verdwyn en gaan heen--so kom hy nie weer op wat na die doderyk neerdaal nie.
| |
| | Job 7:10 | Hy sal nie meer teruggaan na sy huis nie, en sy plek sal hom nie meer ken nie.
| |
| | Job 7:11 | So wil dan ook ék my mond nie hou nie, ek wil spreek in die benoudheid van my gees, ek wil klae in die bitterheid van my siel.
| |
| | Job 7:12 | Is ek 'n see, of 'n groot seedier, dat U 'n wag teen my opstel?
| |
| | Job 7:13 | As ek sê: My bed sal my troos, my slaapplek sal my klagte help dra,
| |
| | Job 7:14 | dan verskrik U my deur drome en ontstel my deur gesigte,
| |
| | Job 7:15 | sodat ek die verwurging verkies, die dood meer as hierdie geraamte van my.
| |
| | Job 7:16 | Ek verfoei my lewe. Nie vir altyd sal ek lewe nie: laat my met rus, want my dae is nietigheid.
| |
| | Job 7:17 | Wat is die mens, dat U hom so hoog stel en dat U op hom ag gee?
| |
| | Job 7:18 | En dat U hom elke môre soek, elke oomblik hom op die proef stel?
| |
| | Job 7:19 | Hoe lank sal U nie van my af wegkyk nie, my nie laat staan nie, totdat ek my speeksel insluk?
| |
| | Job 7:20 | As ek gesondig het, wat doen ek U aan, o Mensebewaker? Waarom het U my as mikpunt vir U opgestel, sodat ek myself tot 'n las is?
| |
| | Job 7:21 | En waarom vergeef U nie my oortreding en neem my ongeregtigheid nie weg nie? Want weldra sal ek in die stof lê; dan sal U my soek, maar ek sal daar nie wees nie.
| |