| |
Afrikaanse Bybel |  | |
 |
| |
| | Job 4:1 | Toe antwoord Élifas, die Temaniet, en sê:
| |
| | Job 4:2 | As 'n mens dit met 'n woord by jou waag, sal jy ontstemd wees? Maar woorde inhou--wie kan dit?
| |
| | Job 4:3 | Kyk, jy het baie mense tereggewys en slap hande versterk.
| |
| | Job 4:4 | Jou woorde het opgerig die wat struikel, en jy het knikkende knieë versterk.
| |
| | Job 4:5 | Maar nou dat dit jóu oorkom, is jy moedverlore; nou dat dit jóu tref, is jy verslae!
| |
| | Job 4:6 | Is jou Godsvrees nie jou hoop, jou vrome wandel nie jou verwagting nie?
| |
| | Job 4:7 | Bedink tog, wie het ooit onskuldig omgekom, en waar is opregtes verdelg?
| |
| | Job 4:8 | Volgens ek gesien het: Die wat onreg ploeg en moeite saai, dié maai dit.
| |
| | Job 4:9 | Deur die asem van God kom hulle om, en deur die geblaas van sy toorn word hulle vernietig.
| |
| | Job 4:10 | Die gebrul van die leeu en die stem van die bruller--ja, die tande van die jong leeus word uitgebreek.
| |
| | Job 4:11 | Die leeu kom om by gebrek aan prooi, en die kleintjies van die leeuin word verstrooi.
| |
| | Job 4:12 | Verder is 'n woord op geheimsinnige wyse na my gebring, en my oor het 'n gefluister daarvan opgevang,
| |
| | Job 4:13 | by die gedagtespel, uit naggesigte gebore, wanneer diepe slaap op die mense val.
| |
| | Job 4:14 | Skrik het oor my gekom en siddering en het my hele gebeente laat bewe.
| |
| | Job 4:15 | Toe skuif daar 'n gees voor my verby; die hare van my vlees het opgerys.
| |
| | Job 4:16 | Hy bly staan, maar ek kon sy gedaante nie herken nie--'n verskyning voor my oë! Ek hoor die gefluister van 'n stem wat sê:
| |
| | Job 4:17 | Sou 'n sterfling regverdig wees voor God? Of 'n man rein wees voor sy Maker?
| |
| | Job 4:18 | Kyk, in sy dienaars stel Hy geen vertroue nie, en by sy engele ontdek Hy dwaling.
| |
| | Job 4:19 | Hoeveel meer by hulle wat kleihuise bewoon, van wie die grondslag in die stof is, wat fyngedruk word soos 'n mot.
| |
| | Job 4:20 | Tussen môre en aand word hulle verpletter; hulle kom vir ewig om sonder dat iemand daar ag op gee.
| |
| | Job 4:21 | Word hulle tentlyn nie losgeruk in hulle nie? Hulle sterwe, en dit sonder wysheid.
| |