| |
Afrikaanse Bybel |  | |
 |
| |
| | Gen 25:1 | En Abraham het weer 'n vrou geneem met die naam van Ketúra.
| |
| | Gen 25:2 | En sy het vir hom Simran en Joksan en Medan en Mídian en Jisbak en Suag gebaar.
| |
| | Gen 25:3 | En Joksan was die vader van Skeba en Dedan; en die kinders van Dedan was die Assuriete, Letusiete en Leümmiete.
| |
| | Gen 25:4 | En die seuns van Mídian was: Efa en Efer en Henog en Abída en Eldaä. Hulle almal was seuns van Ketúra.
| |
| | Gen 25:5 | En Abraham het aan Isak alles gegee wat hy besit het,
| |
| | Gen 25:6 | maar aan die seuns van die byvroue van Abraham het Abraham geskenke gegee en hulle, nog by sy lewe, van sy seun Isak af oos laat wegtrek, na die Oosland.
| |
| | Gen 25:7 | En dit is die dae van die lewensjare van Abraham wat hy geleef het: honderd vyf en sewentig jaar.
| |
| | Gen 25:8 | Abraham het die asem uitgeblaas en in goeie ouderdom gesterwe, oud en afgeleef. En hy is by sy volksgenote versamel.
| |
| | Gen 25:9 | En sy seuns Isak en Ismael het hom begrawe in die spelonk van Magpéla, in die stuk grond van Efron, die seun van Sohar, die Hetiet, wat oos van Mamre lê,
| |
| | Gen 25:10 | die stuk grond wat Abraham van die seuns van Het gekoop het. Daar is Abraham begrawe en sy vrou Sara.
| |
| | Gen 25:11 | Ná die dood van Abraham het God sy seun Isak geseën; en Isak het gewoon by die put Lagai-Roï.
| |
| | Gen 25:12 | En dit is die stamboom van Ismael, die seun van Abraham, wat Hagar, die Egiptiese, die slavin van Sara, vir Abraham gebaar het--
| |
| | Gen 25:13 | dit is die name van die seuns van Ismael, hulle name volgens hulle afstamming: die eersgeborene van Ismael, Nébajot; dan Kedar en Adbeël en Mibsam
| |
| | Gen 25:14 | en Misma en Duma en Massa,
| |
| | Gen 25:15 | Hadad en Tema, Jetur, Nafis en Kedma.
| |
| | Gen 25:16 | Dit is die seuns van Ismael, en dit hulle name, in hulle dorpe en laers, twaalf vorste volgens hulle volkstamme.
| |
| | Gen 25:17 | En dit is die lewensjare van Ismael: honderd sewe en dertig jaar; en hy het die asem uitgeblaas en gesterwe, en hy is versamel by sy volksgenote.
| |
| | Gen 25:18 | En hulle het gewoon van Háwila tot by Sur wat oos van Egipte lê in die rigting van Assur. Teenoor al sy broers het hy hom gevestig.
| |
| | Gen 25:19 | En dit is die geskiedenis van Isak, die seun van Abraham: Abraham was die vader van Isak.
| |
| | Gen 25:20 | En Isak was veertig jaar oud toe hy Rebekka, die dogter van Bétuel, die Arameër uit Paddan-Aram, die suster van Laban, die Arameër, vir hom as vrou geneem het.
| |
| | Gen 25:21 | En Isak het die HERE gesmeek met die oog op sy vrou, want sy was onvrugbaar; en die HERE het hom verhoor, sodat sy vrou Rebekka swanger geword het.
| |
| | Gen 25:22 | En die kinders het teen mekaar gestoot binne-in haar. Toe sê sy: As dit so gaan, waarvoor leef ek dan? Daarop het sy gegaan om die HERE te raadpleeg.
| |
| | Gen 25:23 | En die HERE het haar geantwoord: Twee nasies is in jou skoot, en twee volke sal van mekaar gaan uit jou liggaam; en die een volk sal sterker wees as die ander volk; en die oudste sal die jongste dien.
| |
| | Gen 25:24 | En toe haar dae vervul is dat sy moes baar, was daar 'n tweeling in haar skoot.
| |
| | Gen 25:25 | En die eerste is gebore--rooi, geheel en al soos 'n mantel van hare. Daarom het hulle hom Esau genoem.
| |
| | Gen 25:26 | En daarna is sy broer gebore, terwyl sy hand die hakskeen van Esau vashou. Daarom het hulle hom Jakob genoem. En Isak was sestig jaar oud by hulle geboorte.
| |
| | Gen 25:27 | En die seuns het opgegroei: Esau het 'n ervare jagter geword, 'n man van die veld; maar Jakob was 'n vredeliewende man wat in tente gewoon het.
| |
| | Gen 25:28 | En Isak het Esau liefgehad, want wildsvleis was na sy smaak; maar Rebekka het Jakob liefgehad.
| |
| | Gen 25:29 | En Jakob het 'n kooksel klaargemaak en Esau het moeg uit die veld gekom.
| |
| | Gen 25:30 | Toe sê Esau vir Jakob: Laat my tog sluk van die rooigoed daar, want ek is moeg. Daarom het hulle hom Edom genoem.
| |
| | Gen 25:31 | En Jakob antwoord: Verkoop eers jou eersgeboortereg aan my.
| |
| | Gen 25:32 | En Esau sê: Kyk, ek gaan sterwe, en wat baat die eersgeboortereg my dan?
| |
| | Gen 25:33 | Toe antwoord Jakob: Sweer eers vir my. En hy het vir hom gesweer en sy eersgeboortereg aan Jakob verkoop.
| |
| | Gen 25:34 | En Jakob het aan Esau brood en die kooksel lensies gegee; en hy het geëet en gedrink en opgestaan en weggegaan. So het Esau dan sy eersgeboortereg verag.
| |